Op 13 Oktober 2019 het ek op Schiphol geland met my tasse, ‘n werk, ‘n visum, ‘n vae droom en twee vriendinne wat my op die lughawe kom ontmoet.
Die afgelope 6 jaar was só vol lewensveranderende dinge dat ek skaars weet waar om te begin.
Ek het die man van my drome ontmoet, en met hom getrou. Ek het ‘n woonstel gekoop, ‘n hond aangeneem, ‘n groter huis gekoop saam met my man (sien punt een). Ek het gesondheids uitdagings gehad en positiewe veranderinge. Ek het nuwe vriende gemaak van regoor die wêreld, en ou vriende gesien van reg oor die wêreld. Ek het familie by gekry en mense vir wie ek lief is verloor. Ek het leer Nederlands praat en aansoek gedoen om ‘n Nederlander te word.
Êrens tussen al die opwinding het ek gegroei, verander, en diep binne ook bietjie meer myself gebly. En stukkie vir stukkie is ek besig om ‘n Nederlander te word.