Kerke, tuine en toere

Vandag gaan ons in die rigting van die katedraal van St John the Devine. Ons klim uit by die West end stasie en die vrugte mark is ‘n fees van kleur in teenstelling met die grys van die vorige paar dae

Langs die katedraal is daar ‘n kunswerk, seker ‘n fontein in die somer, wat die oorwinning van die goeie oor die bose uitbeeld.

Die katedraal self is groot. Die boekie sê dis die grootste katedraal in die wêreld, maar volgens Google is dit betwisbaar.

Van hier af gaan ons na die Lincoln Centre en ervaar die opera huis, en Starbucks.

Dis baie naby aan die plek waar ons eerste koor oefening is, so ons soek dit op en stap ‘n draai deur central park. Dis anders as wat ek verwag het, maar baie mooi.

Daar is ‘n klein kerkie, ingedruk tussen die stads geboue, en ek dink weereens daaraan dat dit seker eens op ‘n tyd op sy eie gestaan het.

Die oefening self is baie lekker, die dit eerste keer wat die hele koor groep saam is, en die dirigent is regtig merkwaardig. Die optrede in Carnege Hall begin nou naby voel.

Na die oefening stap ons nog ‘n draai deur Central Park. Hierdie keer gaan ons na die Rockerfeller Centre vir ‘n begeleide toer. Van die ander koor mense het dit aanbeveel en dit was werklik die moeite werd. Dis nie net ‘n enkele gebou nie, maar ‘n kompleks van geboue. Die toer sluit in interessante feite oor Radio City Music Hall, 5th Avenue, Art Deco, die kuns versamelings van die Rockerfellers en stukkies geskiedenis van die stad.

Daar buite, in 5th Avenue, sien ek die oulikste straat teken nog!

image

Na die toer kry ons tannie Elsa se seun by Times Square om dit in die aand te ervaar, en daarna kry ons ‘n burger en custard shake by die Shake Shack.

Daar is selfs parkering vir jou hondjie:

As ons op die trein klim oppad huistoe, is dit met moeë voete en ‘n gelukkige hart.

Eerste kennismaking met New York

Uiteindelik by ons eindbestemming. Ek sukkel om aan te pas net die nuwe slaap tye en besluit om bietjie te gaan oefen by die hotel se Gym. My lyf is dankbaar na die lang sit die vorige twee dae.

Na ontbyt vat ons die moltrein na Times Square vir ons eerste kennismaking. Selfs op ‘n koue oggend is dit merkwaardig!

image

Van daar het ons gestap na Grand Central station. Soos Fanie gesê het “wel, dis Grand, en as hulle sê dis central, dan glo ek hulle!”

Van daar is ons na die New York Public Library.Met die dat ons gestap het om ‘n beter foto van die vooraansig te kry, land ons in Library way met die oulikste uittreksels uit literatuur in die sypaadjie.Die biblioteek self was indrukwekkend, en daar is tans ‘n uitstalling oor die afgelope 175 jaar van foto’s neem en deel. Na die uitstalling het ons die voëltjies gevoer en ons broodjies geniet by Bryant Park. Daar loop van ‘n buitemuurse “reading room” raak, en ‘n doedelsak orkes.

Met nuwe krag van ons broodjies besluit ons om ons dag voort te sit oppad na St Patrick’s Cathedral. Ons eindig in die Rockerfeller Concourse se stasie en vir ‘n oomblik wonder ek of daar ooit ‘n uitgang gaan wees.

Ons kry uiteindelik die uitgang na 5th Avenue en verkyk ons aan alles in die straat!

Terwyl ons daar is kyk ons na die blomme uitstalling in die “Engelse Kanaal” met indrukwekkende Paashaas en al.

Van hier trek ons aandag na die Lego winkel. Dis enige kind, klein of groot, se droom! Hulle het elke soort blokkie, vorm en kleur, en stelle om ander dinge te bou. Absoluut Wow.

St Patrick’s katedraal is regtig mooi, gebaseer op die Koln katedraal, en dit word tans gerestoureer, so dis pragtig wit buite.

Ons stap af met 5th Avenue en maak ‘n draai by die Trump Tower. Ek is nie seker of dit regtig baie oulik is nie, maar dit was lekker warm…

Van daar loop ons verby Carnege Hall, die eintlike rede vir ons besoek en dit voel of dit uiteindelik ‘n werklikheid is!

In die voetspore van die ou geboue is twee pragtige herinnerings fonteine. Alhoewel mens die impak van die gebeure kan onthou, is die plek ook vreedsaam en baie spesiaal
image

Van daar vra ons ‘n vriendelike polisie man vir aanwysings, en “make a left on Broadway” en “make a right at Park Row”.
image

Ons eindbestemming is om te stap oor Brooklyn brug om die dag af te sluit.
image

Ons voete is moeg, maar wat ‘n merkwaardige dag.

Oppad

Met groot opwinding vertrek ons vanaf Kaapstad na New York via Doha. Die eerste been van die vlug verloop sonder insident. Dis lekker dat daar wifi aan boord is, en ek kry kans ons op te vang met ‘n paar flieks.

Doha lughawe is modern, skoon en mooi genoeg, en dis lekker om vir ‘n slag te kan bene rek. Ek en Cecilia stap die hele lughawe plat en verkyk ons aan die kuns installasies.

Ons drink ‘n koffie en ek doen bietjie beplanning vir sightseeing voor ons gaan rus in die “quiet lounge” en probeer slaap voor die lang vlug. Terug by die hek is die groep se opwinding tasbaar en ons weet as ons weer op die grond is, is ons in New York!

Die vlug is alles behalwe vervelig! Na ons opstyg besef ek dat my sitplek nie kan terug leun nie en die lugwaardin vra of ek bereid is om te skuif na die nooduitgang. Net daar vat ek my hand bagasie en kom sit by my nuwe plek. Die man wat langs my sit is seker ‘n broer van Goliat, hy is seker 2m lank en in sy baadjie lyk hy sterk gebou.

‘n Paar uur in die vlug in, kom verduidelik die lugwaardin dat daar ‘n moeilike passasier is wat te veel gedrink het en vra of hy bereid sal wees om as veiligheids wag op te tree indien die ou wakker word en steeds moeilik is. Gelukkig het die man baie lank geslaap.

Nog ‘n rukkie later kom die een ou oorkant die paadjie terug van die badkamer af en stink van die sigaret rook. Binne ‘n oogwink is die lugwaardin daar om hom te vertel dit is teen die regulasies en dat die owerhede hom van die vliegtuig af sal vergesel.

Na 33 ure in transit, land ons uiteindelik in New York onder ‘n digte wolk. Ons staan deur die lang toue van paspoort beheer, vang ons bussie na ons hotel en dis met blydskap dat ons daar stop.