Big Bus en Broadway

Na ‘n bietjie laat slaap is dit tyd om dinge rustiger te vat. Vandag se program sluit in ‘n Big Bus hop on hop off toer en ons kry die bus by die begin punt naby Times Square. Die eerste bus doen ‘n downtown loop en alhoewel ek van die plekke al gesien het, is die kommentaar baie lekker.

Die bus ry verby Wall Street en Battery Park wat weggespoel het tydens die aanslag van hurricane Sandy en tans in herbou is.

Ons klim af by die High Line, ‘n ou spoorweg wat  in ‘n park verander is. Ons loer in by die Chelsea market, ‘n binnenshuise kosmark, en die atmosfeer is heerlik, soos ‘n rustiger weergawe van die Biscuit Mill.

Terug op die bus is die nuwe gids ‘n man wat ‘n meer realistiese uitkyk op die Amerikaners.

Na die bus klaarmaak gaan maak ek ‘n draai by Madame Tussauds en neem kiekies van die bekendes en pose saam met Madiba.

Op die uptown bus loop ek my makkers vag die oggend weer raak, en ons toer op na die West side en Harlem terwyl die gids ons stories vertel van sy kinderdae.

Iets wat my opval oor New York is hoeveel mense met hulle honde stap, wat sin maak, as jy dink almal bly in woonstelle en honde moet ook oefen. Wat snaakser is, is dat ek tot nou toe nog nie een Yorkie gesien het nie, wel baie poedels. Ek neem toe maar ‘n skelm foto van die eerste Yorkie wat ek sien, en kry ‘n tweede een in die deal!

Ek sien ‘n billboard wat sê:
“You are always haunted by the shoes you didn’t buy” Ek dink dit is geldig vir baie dinge  en ervarings in die lewe.

Daar raak ek aan die die slaap terwyl ons deur museum mile ry, en ek mis die Guggenheim wat ek eintlik wou sien.

Die slapie doen my goed, want ek het kaartjies vir Phantom of the Opera die aand. Ek het kaartjies bespreek deur TodayTix, ‘n app wat afslag kaartjies verkoop  en dit vir jou bring na die vertoning die aand.

Wat ‘n belewenis was Phantom! Die dekor, die teater en die musiek is asemrowend! Elke liewe oomblik was die moeite werd! Dis nie verniet die langste show op Broadway nie!

Carnege Hall

Met my lippe geverf en my swart hakskoene wikkel ek stasie toe om aan te tree vir die konsert. Net jammer die treine loop minder gereeld oor naweke. En daar is vertragings op albei lyne. Ek het darem ‘n koor maat wat saam met my reis,en ons sou seker vroeg gewees het as dit nie was vir die trein wat ons per abuis in die verkeerde rigting gevat het nie. Nietemin is ons by die teater voor ons sound check en ons is reg om te sing.

Die massa koor bestaan uit 180 stemme en tydens ons laaste oefening is ons in 4 groepe gedeel en elkeen ‘n line up room toegeken. Ek en my mede soprane wag in Orchestra room 5, ons line up room, en staan in netjiese rye soos wat ons op die verhoog gaan staan. Wanneer dit tyd is loop ons af by die lang spiraal trap en val in plek op die beroemde verhoog.

Dit is voorwaar die mooiste mens gemaakte plek waar ek nog ooit gesing het. Die teater self is merkwaardig, en die akoestiek is om oor huistoe te skryf.
Ek het geen foto’s kon neem nie, maar ‘n mede koorlid se pa in die gehoor het vir ons ‘n kiekie gestuur.

Die optrede was ‘n onvergeetlike belewenis. Die orkes het as eenheid opgetree om melodieë en harmonieë saam met die koor in te vleg en die dirigent het haar ongelooflik goed van haar taak gekwyt. In net 2 dae het sy reg gekry om die koor as eenheid te laat optree en om haar interpretasie van die musiek te laat werk.

Na die konsert was ons by ‘n dinee gereël for konsert organiseerders. Dit was ‘n fees om weer groente te kan eet, en regte vleis! Dit was net so lekker om bietjie met die ander koor lede te gesels.

Toe Rosie’s uiteindelik toemaak het ‘n groep van ons aangeskuif na ‘n kareoke bar en sodoende die pret met nog ‘n ruk verleng. Na een uur was ek so moeg dat ek saam met 3 ander (Liaan, Nicola en Liesie) nog ‘n trein avontuur aangepak het terug na ons hotel in die Bronx.

Wat ‘n ongelooflike aand!

Maak planne, en as jy moet, verander dit

Die oggend toe ek regmaak, sien ek my New York Pass is missing en ek besef ek het dit seker verloor na my laaste ding die vorige aand. Ek het allerhande planne gehad om dinge te sien en doen in die oggend, en nou moet ek die kaart gaan opspoor. Gelukkig kan mens dit vervang, so ek kry ‘n vinnige koffie terwyl ek wag dat hulle my kan help. Ek het al gehoor die Starbucks mense skryf aspris jou naam verkeerd, en dalk is dit waar.

 

Ek het afgespreek met Louis en Michelle om hulle 11uur by ‘n plek te kry. Terwyl ek wag gaan soek ek die tuine op en verkyk my aan die mense wat op ‘n Sondag in Central Park uithang. Ook die bome wat lyk of dit begin om te bloei en ek wonder hoe gaan dit lyk oor ‘n paar weke.

Nadat ek my makkers opgespoor het ry ons bus na Absolute Bagel, vir ‘n outentieke en heerlike Novo en Cream Cheese Bagel. Yummy. Definitief die moeite werd.

Van daar is dit tyd vir ‘n Circle Line Cruise om Manhattan eiland om die uitsigte van die stad en ook die statue of liberty te sien te kry. Absoluut die moeite werd, en die gids is baie interessant en vol humor.

Na die Cruise is dit ‘n haastige busrit, voetslaan, treinrit om terug te kom by die hotel en reg te maak vir die optrede.

Uitsigte en ondervindings in New York

11 April, ons laaste oefening voor die groot konsert, en die eintlike rede vir ons besoek.

Dis so bietjie van ‘n gejaag, want die naweek treine loop nie so gereeld soos in die week nie en ons moet ‘n paar blokke spoed stap om betyds te wees. Gelukkig is dit baie maklik om rigting te hou. Al die strate is genommer, so mens kyk net of die nommers groter word of kleiner,en waar jou bestemming is en kies koers.

Ek is verstom oor hoeveel die klank van die koor verander het in die spasie van twee oefeninge, en na hulle vir die massakoor ons instruksies gegee het, is dit opwindend om te dink as ons mekaar weer sien is dit by Carnege Hall!
In die middag gaan ek op ‘n solo uitstappie, om die beste te maak van my New York Pass.

Eerste gaan ek op my staptoer deur Greenwich Village, en dit voel of ek op ‘n fliek se stel beland het.

Washington Square Park is ‘n bekende park. Volgens die gids is dit ook die plek van ‘n ou begraafplaas, ‘n plek waar kunstenaars optree, ‘n plek vir demonstrasies en ook die “quad” vir New York University.

Die toer gaan deur die straatjies van die bekende area. Opwindende straatjies vol teaters en restaurante, straatjies vol geskiedenis, en stil straatjies met ou “Brownstone” huise.

Na die toer vind ek my pad “uptown” (na die hoër nommers van die strate) om die stad vanaf die Empire State gebou te sien. Dit is die eerste helder dag en alhoewel die wind koud is, is die uitsig asemrowend.

In die gebou het ek ‘n draai gemaak by die NY Skyride, iets soos ‘n mini imax wat ‘n video wys van ‘n helikopter en ‘n droë oor en deur die stad met kommentaar, en dan sit mens in ‘n simulator wat voel of jy saam vlieg!

Daarna drink ek ‘n koffie by die immer gewilde Starbucks, en loer in by my nuwe gunsteling winkel om te bewonder, Desigual, voor ek die trein vang terug hotel toe.

Kerke, tuine en toere

Vandag gaan ons in die rigting van die katedraal van St John the Devine. Ons klim uit by die West end stasie en die vrugte mark is ‘n fees van kleur in teenstelling met die grys van die vorige paar dae

Langs die katedraal is daar ‘n kunswerk, seker ‘n fontein in die somer, wat die oorwinning van die goeie oor die bose uitbeeld.

Die katedraal self is groot. Die boekie sê dis die grootste katedraal in die wêreld, maar volgens Google is dit betwisbaar.

Van hier af gaan ons na die Lincoln Centre en ervaar die opera huis, en Starbucks.

Dis baie naby aan die plek waar ons eerste koor oefening is, so ons soek dit op en stap ‘n draai deur central park. Dis anders as wat ek verwag het, maar baie mooi.

Daar is ‘n klein kerkie, ingedruk tussen die stads geboue, en ek dink weereens daaraan dat dit seker eens op ‘n tyd op sy eie gestaan het.

Die oefening self is baie lekker, die dit eerste keer wat die hele koor groep saam is, en die dirigent is regtig merkwaardig. Die optrede in Carnege Hall begin nou naby voel.

Na die oefening stap ons nog ‘n draai deur Central Park. Hierdie keer gaan ons na die Rockerfeller Centre vir ‘n begeleide toer. Van die ander koor mense het dit aanbeveel en dit was werklik die moeite werd. Dis nie net ‘n enkele gebou nie, maar ‘n kompleks van geboue. Die toer sluit in interessante feite oor Radio City Music Hall, 5th Avenue, Art Deco, die kuns versamelings van die Rockerfellers en stukkies geskiedenis van die stad.

Daar buite, in 5th Avenue, sien ek die oulikste straat teken nog!

image

Na die toer kry ons tannie Elsa se seun by Times Square om dit in die aand te ervaar, en daarna kry ons ‘n burger en custard shake by die Shake Shack.

Daar is selfs parkering vir jou hondjie:

As ons op die trein klim oppad huistoe, is dit met moeë voete en ‘n gelukkige hart.

Eerste kennismaking met New York

Uiteindelik by ons eindbestemming. Ek sukkel om aan te pas net die nuwe slaap tye en besluit om bietjie te gaan oefen by die hotel se Gym. My lyf is dankbaar na die lang sit die vorige twee dae.

Na ontbyt vat ons die moltrein na Times Square vir ons eerste kennismaking. Selfs op ‘n koue oggend is dit merkwaardig!

image

Van daar het ons gestap na Grand Central station. Soos Fanie gesê het “wel, dis Grand, en as hulle sê dis central, dan glo ek hulle!”

Van daar is ons na die New York Public Library.Met die dat ons gestap het om ‘n beter foto van die vooraansig te kry, land ons in Library way met die oulikste uittreksels uit literatuur in die sypaadjie.Die biblioteek self was indrukwekkend, en daar is tans ‘n uitstalling oor die afgelope 175 jaar van foto’s neem en deel. Na die uitstalling het ons die voëltjies gevoer en ons broodjies geniet by Bryant Park. Daar loop van ‘n buitemuurse “reading room” raak, en ‘n doedelsak orkes.

Met nuwe krag van ons broodjies besluit ons om ons dag voort te sit oppad na St Patrick’s Cathedral. Ons eindig in die Rockerfeller Concourse se stasie en vir ‘n oomblik wonder ek of daar ooit ‘n uitgang gaan wees.

Ons kry uiteindelik die uitgang na 5th Avenue en verkyk ons aan alles in die straat!

Terwyl ons daar is kyk ons na die blomme uitstalling in die “Engelse Kanaal” met indrukwekkende Paashaas en al.

Van hier trek ons aandag na die Lego winkel. Dis enige kind, klein of groot, se droom! Hulle het elke soort blokkie, vorm en kleur, en stelle om ander dinge te bou. Absoluut Wow.

St Patrick’s katedraal is regtig mooi, gebaseer op die Koln katedraal, en dit word tans gerestoureer, so dis pragtig wit buite.

Ons stap af met 5th Avenue en maak ‘n draai by die Trump Tower. Ek is nie seker of dit regtig baie oulik is nie, maar dit was lekker warm…

Van daar loop ons verby Carnege Hall, die eintlike rede vir ons besoek en dit voel of dit uiteindelik ‘n werklikheid is!

In die voetspore van die ou geboue is twee pragtige herinnerings fonteine. Alhoewel mens die impak van die gebeure kan onthou, is die plek ook vreedsaam en baie spesiaal
image

Van daar vra ons ‘n vriendelike polisie man vir aanwysings, en “make a left on Broadway” en “make a right at Park Row”.
image

Ons eindbestemming is om te stap oor Brooklyn brug om die dag af te sluit.
image

Ons voete is moeg, maar wat ‘n merkwaardige dag.

Oppad

Met groot opwinding vertrek ons vanaf Kaapstad na New York via Doha. Die eerste been van die vlug verloop sonder insident. Dis lekker dat daar wifi aan boord is, en ek kry kans ons op te vang met ‘n paar flieks.

Doha lughawe is modern, skoon en mooi genoeg, en dis lekker om vir ‘n slag te kan bene rek. Ek en Cecilia stap die hele lughawe plat en verkyk ons aan die kuns installasies.

Ons drink ‘n koffie en ek doen bietjie beplanning vir sightseeing voor ons gaan rus in die “quiet lounge” en probeer slaap voor die lang vlug. Terug by die hek is die groep se opwinding tasbaar en ons weet as ons weer op die grond is, is ons in New York!

Die vlug is alles behalwe vervelig! Na ons opstyg besef ek dat my sitplek nie kan terug leun nie en die lugwaardin vra of ek bereid is om te skuif na die nooduitgang. Net daar vat ek my hand bagasie en kom sit by my nuwe plek. Die man wat langs my sit is seker ‘n broer van Goliat, hy is seker 2m lank en in sy baadjie lyk hy sterk gebou.

‘n Paar uur in die vlug in, kom verduidelik die lugwaardin dat daar ‘n moeilike passasier is wat te veel gedrink het en vra of hy bereid sal wees om as veiligheids wag op te tree indien die ou wakker word en steeds moeilik is. Gelukkig het die man baie lank geslaap.

Nog ‘n rukkie later kom die een ou oorkant die paadjie terug van die badkamer af en stink van die sigaret rook. Binne ‘n oogwink is die lugwaardin daar om hom te vertel dit is teen die regulasies en dat die owerhede hom van die vliegtuig af sal vergesel.

Na 33 ure in transit, land ons uiteindelik in New York onder ‘n digte wolk. Ons staan deur die lang toue van paspoort beheer, vang ons bussie na ons hotel en dis met blydskap dat ons daar stop.