Om te bak

Van ek hier aangekom het, is ek al lus om iets te bak, iets besonder, liplek lekker en onvergeetlik, en verlede week het ek dit uiteindelik gedoen. Ek het vroeg al op die resep afgekom en dit gehou. Selfs ‘n vriend in Pretoria oortuig om die resep uit te toets.

Met dit ingedagte het ek die inkopies gaan koop, en met die eerste inkopie uitstappie alles gekry behalwe koeksoda, wat uitverkoop was. Ek moet se, ek het lank gesoek na die kakao, want dit was langs die koffie en nie tussen die versiersuiker en sjokolade smeer soos ek gewoond is nie.

Met die eerste poging het ek ‘n sjokolade bokskoek gebak, sommer om die gas oond uit te toets en te sien hoe dinge werk.

En toe eendag is ek vroeer die middag by die huis en sidaar, ek kry die kans om hierdie koek te probeer.

IMG_20180221_185424.jpg

 

Behalwe vir ‘n paar verstellings in die bestanddele in die resep is dit eintlik ‘n baie basiese sjokolade koek, maar daai verstellings maak ‘n reuse verskil. Suurroom kan waarskynlik met karringmelk vervang word as jy makliker karringmelk in die hande kan kry (ek kan nie, moes beskuit bak met jogurt) en die mengsel van botter en olie is nogal ‘n goeie truuk, want dit maak die koek meer klam, maar gee die ryk oordadigheid wat mens met botter kry.

Iets wat ‘n goeie meevaller is, is die koek is so dat ek dit geheel en al sonder elektriese klitser kon bak (maar ek het ‘n reuse whisk.) Miskien sal ek ‘n klitser aanskaf, maar aan die ander kant is dit ‘n goeie kans om my innerlike kos godin tevrede te stel met ‘n bietjie hand klits. Die geheim is glo om uit jou elmboog te klits, nie jou pols nie. Te oordeel aan die hoeveelheid meel op die vloer en toonbank moet ek dalk in ‘n groter mengbak bele…

Die geheim van hierdie heerlikheid is die versiering. Mens maak ‘n gewone botterversiersel en dan verander dit in hemelse sjokolade fudge as jy gesmelte sjokolade byroer.

So lief as wat ek is vir koek eet, is die genot vir my meer in die bak daarvan, so ek was bly toe ek ‘n geleentheid kry om dit na ‘n kollega se house warming saam te neem. Kyk, die storie is ryk en daar het BAIE oorgebly, maar die res van die mense was baie bly toe ek die volgende dag die res van die koek saamneem werk toe.

So wat is in die bak? Vir my gaan dit om die terapie, die fyn lyn tussen kuns en wetenskap waar die bestanddele saamkom om iets heeltemal anders te vorm. Vir die wag en loer deur die oond se deur om te kyk hoe dit rys. Ja, selfs vir die skoonmaak na die tyd. Mense wat my ken weet ek is nie mal oor skoonmaak nie, maar as ek bak maak ek altyd skoon, voor en na die tyd. Dis deel van die proses.  En so word ‘n huis ‘n woning, ‘n plek waarheen ek kan tuiskom, en kaalvoet koningin wees in my eie kombuis!

 

NS: As jy belangstel om meer te lees oor my nuutste avontuur, gaan loer gerus hier.

3 thoughts on “Om te bak

  1. Elsa-Marié bak gedurig hier in Leuven! Eers was dit sjokoladesplinterkoekies en daarna al hertzoggies op hertzoggies. Die nuwe baadjie wat ek vir haar gekoop het, se kleur herinner haar aan Red Velvet-koek, en nou kerm sy die hele tyd vir die bestanddele. Geniet jou nuwe avontuur en ek hoop jy kry genoeg tyd vir bak!

    Like

Leave a comment