Ek is vreeslik lief vir skoene, al dra ek nie regtig stilettos nie. Ek het gister ‘n nuwe paar skoene ontvang wat ek gekoop het, “one of a kind”, handgemaakte, plat skoene. Ek het ook deur ons hele kantoor geloop en vir al my vriendinne gaan wys hoe oulik is my skoene.
Jare gelede het ek al gedink om te skryf oor die belang van elke paar skoene in my lewe. Elke paar vertel ‘n storie van iets waarvan ek hou, iets wat deel is van wat my storie is.
Hieronder volg ‘n uittreksel van ‘n paar betekenisvolle skoene in my lewe.
Vellies – Ek het nou al ‘n paar stelle handgemaakte vellies. Dis my elke dag skoene, gemaklik genoeg om mee te LOOP, netjies genoeg om by my werksklere te dra en funky genoeg om bietjie iets anders as gewoon te wees.
Site skoene – So nou en dan moet ek vir werk site toe gaan. Dis dan wanneer ek my grys en pienk site skoene aantrek, saam met my harde hoed en high-vis baadjie is dit deel van die uniform wat se “hierdie stadsmeisie kan ook haar hande vuil maak”
Fietsry skoene – Daai cleats wat so in mens se fiets inclip. Ek ry nie op die oomblik genoeg fiets om myself ‘n fietsryer te noem nie, maar ek het al BAIE kilometers getrap en so nou en dan gestap – as die opdraend te styl is of as ek ‘n pap wiel kry. Tog is fietsry (of mountain bike) om presies te wees vir my soos wat ek my voorstel hoe dit is om te vlieg. Dis ‘n manier om die natuur te ervaar, en om te sien hoe ek iets doen wat ek nog nooit moontlik geag het nie.
Rotsklim skoene – Hulle voel bietjie afgeskeep, my pienk rotsklim skoene. Maar hulle wag daar vir my, vir wanneer ek weer die kant van ‘n klimmuur in ‘n gym, of dalk eendag buite wil gaan aandurf. Dis nog een van daai goed wat ek myself mee verbaas het.
Gym tekkies – Nou daar is ‘n paar skoene wat hulle sous werd is! Soggens as ek opstaan is dit in my oefen klere en gym tekkies, reg vir my daaglikse sessie van stres hantering en sommer net lekkerkry.
Hardloop tekkies – Ja, ek het ‘n paar van hulle ook. Nie dat ek ‘n kranige hardloper is nie, maar soms probeer ek darem. Dis ook hierdie skoene waarmee ek gaan toer het, kilometers en kilometers gestap het in vreemde lande om nuwe dinge te verken.
Ballet skoene – ‘n herinnering van die dae toe ek gedans het. Om ballet skoene aan te trek laat my sommer anders voel. Grasieus, soos ‘n swaan.
Koor skoene – Daar is ‘n paar spesiale vereistes aan ‘n goeie paar koor skoene. Hulle moet mooi lyk op ‘n verhoog, met toe tone (sodat die gehoor nie ‘n klomp wit tone sien nie) en gemaklik genoeg wees om vir ure in te kan staan.
Hakskoene – Jip, ek het darem ‘n paar van hulle ook. Ek dra hulle nie gereeld nie, en ook nie lank nie, maar soms moet mens jou lipstick aansit, jou mooi rokkie aantrek, en hakskoene aantrek en bietjie Cinderella speel!