Uiteindelik by ons eindbestemming. Ek sukkel om aan te pas net die nuwe slaap tye en besluit om bietjie te gaan oefen by die hotel se Gym. My lyf is dankbaar na die lang sit die vorige twee dae.
Na ontbyt vat ons die moltrein na Times Square vir ons eerste kennismaking. Selfs op ‘n koue oggend is dit merkwaardig!

Van daar het ons gestap na Grand Central station. Soos Fanie gesê het “wel, dis Grand, en as hulle sê dis central, dan glo ek hulle!”
Van daar is ons na die New York Public Library.Met die dat ons gestap het om ‘n beter foto van die vooraansig te kry, land ons in Library way met die oulikste uittreksels uit literatuur in die sypaadjie.Die biblioteek self was indrukwekkend, en daar is tans ‘n uitstalling oor die afgelope 175 jaar van foto’s neem en deel. Na die uitstalling het ons die voëltjies gevoer en ons broodjies geniet by Bryant Park. Daar loop van ‘n buitemuurse “reading room” raak, en ‘n doedelsak orkes.
Met nuwe krag van ons broodjies besluit ons om ons dag voort te sit oppad na St Patrick’s Cathedral. Ons eindig in die Rockerfeller Concourse se stasie en vir ‘n oomblik wonder ek of daar ooit ‘n uitgang gaan wees.
Ons kry uiteindelik die uitgang na 5th Avenue en verkyk ons aan alles in die straat!
Terwyl ons daar is kyk ons na die blomme uitstalling in die “Engelse Kanaal” met indrukwekkende Paashaas en al.
Van hier trek ons aandag na die Lego winkel. Dis enige kind, klein of groot, se droom! Hulle het elke soort blokkie, vorm en kleur, en stelle om ander dinge te bou. Absoluut Wow.
St Patrick’s katedraal is regtig mooi, gebaseer op die Koln katedraal, en dit word tans gerestoureer, so dis pragtig wit buite.
Ons stap af met 5th Avenue en maak ‘n draai by die Trump Tower. Ek is nie seker of dit regtig baie oulik is nie, maar dit was lekker warm…
Van daar loop ons verby Carnege Hall, die eintlike rede vir ons besoek en dit voel of dit uiteindelik ‘n werklikheid is!
In die voetspore van die ou geboue is twee pragtige herinnerings fonteine. Alhoewel mens die impak van die gebeure kan onthou, is die plek ook vreedsaam en baie spesiaal
Van daar vra ons ‘n vriendelike polisie man vir aanwysings, en “make a left on Broadway” en “make a right at Park Row”.
Ons eindbestemming is om te stap oor Brooklyn brug om die dag af te sluit.
Ons voete is moeg, maar wat ‘n merkwaardige dag.