Met groot opwinding vertrek ons vanaf Kaapstad na New York via Doha. Die eerste been van die vlug verloop sonder insident. Dis lekker dat daar wifi aan boord is, en ek kry kans ons op te vang met ‘n paar flieks.
Doha lughawe is modern, skoon en mooi genoeg, en dis lekker om vir ‘n slag te kan bene rek. Ek en Cecilia stap die hele lughawe plat en verkyk ons aan die kuns installasies.
Ons drink ‘n koffie en ek doen bietjie beplanning vir sightseeing voor ons gaan rus in die “quiet lounge” en probeer slaap voor die lang vlug. Terug by die hek is die groep se opwinding tasbaar en ons weet as ons weer op die grond is, is ons in New York!
Die vlug is alles behalwe vervelig! Na ons opstyg besef ek dat my sitplek nie kan terug leun nie en die lugwaardin vra of ek bereid is om te skuif na die nooduitgang. Net daar vat ek my hand bagasie en kom sit by my nuwe plek. Die man wat langs my sit is seker ‘n broer van Goliat, hy is seker 2m lank en in sy baadjie lyk hy sterk gebou.
‘n Paar uur in die vlug in, kom verduidelik die lugwaardin dat daar ‘n moeilike passasier is wat te veel gedrink het en vra of hy bereid sal wees om as veiligheids wag op te tree indien die ou wakker word en steeds moeilik is. Gelukkig het die man baie lank geslaap.
Nog ‘n rukkie later kom die een ou oorkant die paadjie terug van die badkamer af en stink van die sigaret rook. Binne ‘n oogwink is die lugwaardin daar om hom te vertel dit is teen die regulasies en dat die owerhede hom van die vliegtuig af sal vergesel.
Na 33 ure in transit, land ons uiteindelik in New York onder ‘n digte wolk. Ons staan deur die lang toue van paspoort beheer, vang ons bussie na ons hotel en dis met blydskap dat ons daar stop.